Vier beseer in twee bomaanvalle in Kenia
2011-12-16 16:24
Nairobi – Vier mense is beseer tydens twee bomaanvalle in die noorde van Kenia, het plaaslike beamptes gesê.
James Seriani, die polisiekommissaris in die Noord-Oos-provinsie, het gesê ‘n handgranaat is laat Donderdagnag in die personeelkantien by die gevangenis in Garissa gegooi.
Die ander bomaanval het op dieselfde tyd by ‘n plaaslike hotel gebeur.
Die twee aanvalle is deel van ‘n reeks aanvalle wat in Kenia plaasgevind het sedert dié land troepe twee maande gelede na Somalië gestuur het.
Kenia het gesê hy wil al-Shabaab, 'n rebellegroep wat bande met al-Kaïda het, uitroei. Dié groep word blameer vir ‘n reeks aanvalle en ontvoerings in Kenia.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP