Vermoorde aktivis se drywer verdwyn
2010-06-04 15:16
Kinshasa – Die drywer van die vermoorde menseregte-aktivis Floribert Chebeya van die Demokratiese Republiek van die Kongo, is steeds vermis, het die polisie en Chebeya se regsgroep Vrydag gesê.
Volgens ‘n aktivis van die groep Voice of the Voiceless (VSV) het hulle nog nie die drywer, Fidele Bazana, opgespoor nie.
Chebeya, wat die hoof van dié groep was, is Woensdagoggend dood in sy motor gevind.
Hy was op die agterste sitplek van die motor vasgebind.
Bazana het 15 jaar lank vir Chebeya gewerk.
Die twee mans het Dinsdagaand verdwyn nadat hulle by die polisie-hoofkwartier in Kinshasa was, waar Chebeya die inspekteurgeneraal John Numbi moes ontmoet.
Chebeya het sy vrou om 17:00 geskakel om te sê dat hy veilig by die polisie-hoofkwartier opgedaag het. Hy het haar rondom 20:00 ‘n SMS gestuur om te sê dat hy nie met Numbi kon vergader nie.
Hy is die volgende oggend gevind, maar Bazana het "verdwyn".
“Ons is bevrees dat hy doodgeskiet is en dat mense van sy liggaam ontslae geraak het,” het ‘n VSV-aktivis aan AFP vertel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP