Vermeende huursoldate ‘sal nie doodstraf kry’
2010-07-23 14:29
Bloemfontein - Nie een van die sewe vermeende huursoldate wat na bewering by ’n mislukte sluipmoordpoging op premier Pakalitha Mosisili van Lesotho betrokke was, sal die doodstraf opgelê word as hulle in Lesotho aan moord skuldig bevind word nie, het adv. Leaba Thetsane, direkteur van openbare vervolging van dié land, Donderdag in die Bloemfonteinse streekhof getuig.
Hoewel die doodstraf nog in Lesotho van toepassing is, het sy regering die versekering gegee dat dit nie in die geval van die ses Mosambiekers en ’n Suid-Afrikaanse burger vir hul beweerde misdade op 22 April 2009 opgelê sal word nie.
Dié getuienis is Donderdag voor streeklanddros M. Daya gelewer in ’n aansoek om Alberto Makwakwa (41), Angelo Mondlani (39), Mangani Ma-lenge (45), Abel Nhatsave (46), George Thomas (45), Francisco Mandlate (39) en Rocky Mazinga (39) aan Lesotho uit te lewer.
Een van hul makkers, Simon Mnguni van Katlehong, het Sonderdag vir die staat getuig en in ’n verklaring gesê hoe hy deur die vermeende opperbrein agter dié poging in Lesotho, Jessie Ramatakane (61), gewerf is om ook aan die staatsgreeppoging deel te neem.
Die hele groep is eers na ’n tradisionele geneser by De Deur gebring waar hulle “gereinig” is. Die behandeling wat hulle gekry het, sou hulle teen die koeëls van die soldate van Lesotho beskerm.
Hulle is daarvandaan na ’n plaas van Ramatakana nadat hulle op Bethlehem brandstof ingegooi het. Hy vertel hoe hulle op die plaas wapens gereed gekry het en uniforms om aan te trek.
Die planne met kaarte oor wie waar wat moet doen, is aan hulle verduidelik. Nadat die premier gevang is, sou hy na ’n radiostasie gebring word waar hy sy uittrede sou aankondig. Daarna sou hy in die tronk gesmyt word, is aan hulle gesê.
Hulle sou R1 miljoen vir hul werk kry.
Hul aanvoerder in die aanval was Makotoko Lerotholi, wat hulle as “generaal” aangespreek het. Volgens vroeëre getuienis was hy ’n gewone soldaat van Lesotho.
Mnguni het elkeen van die sewe mans uitgewys as lid van die groep wat saam in Lesotho was.
Uiteindelik het Mnguni as bestuurder van ’n Land Rover en later ’n minibus ná die mislukte sluipmoordpoging voor die soldate van Lesotho uitgevlug en te voet oor die Caledonrivier gevlug.
Hy is op Ladybrand in hegtenis geneem.
Die aansoek duur Vrydag op Ladybrand voort wanneer ’n inspeksie van sekere gebiede per helikopter gedoen gaan word.
Adv. Jannie Botha tree vir die staat op. Dr. Pieter Nel tree vir die sewe mans op.
Vier Mosambiekers is glo in die mislukte poging in Lesotho doodgeskiet. ’n Mosambiekse en ’n Suid-Afrikaanse burger is in Lesotho gevange geneem.
Lerotholi is intussen aan natuurlike oorsake dood.
Ramatakane is ’n skatryk sakeman van Sandton en die Oos-Vrystaat.
Die aansoek om sý uitlewering sal waarskynlik later in Bethlehem aangehoor word.
- Volksblad