Vergeet van die steentjies, maak toe daai beentjies!
2010-08-07 04:35
Monrovia - Liberiese wetgewers is woedend oor ‘n plaaslike koerant se dekking, wat ‘n kaalfoto van Naomi Campbell insluit, van oudpres. Charles Taylor se diamantverwante verhoor vir oorlogsmisdade.
Die supermodel is ‘n sleutelgetuie in dié verhoor. Sy het na bewering ongeslypte diamante as geskenk van Taylor ontvang.
Die Liberiese senaat het Donderdag ‘n spesiale vergadering gehou om die foto van Campbell te bespreek. In die foto is sy kaal van agter en loer oor haar skouer, in die rigting van ‘n foto van ‘n somber Taylor.
Die fotos is Donderdag só langs mekaar op die voorblad van Donderdag se The Democrat geplaas.
Die kop het gelui: “Blood diamond’s moment of truth today”, voor Campbell later die dag in die spesiale hofsitting in Den Haag getuig het. Taylor staan tereg op 11 klagtes van oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom.
Campbell het erken sy het ongeslypte diamante in 1997 as geskenk ontvang. Sy het aanvaar dit kom van Taylor, wie sy ontmoet het by ‘n ete in Suid-Afrika waarvan oudpres. Nelson Mandela die gasheer was.
Liberiese wetgewers wou die koerant se uitgewer na die parlement roep, maar die koerant wou niks hiervan weet nie.
In sy afwesigheid het die parlementslede die foto as "obseen" bestempel.
Taylor word daarvan beskuldig dat hy onwettige “bloeddiamante” ontvang het in ruil vir wapens wat hy glo aan rebelle in Sierra Leone se burgeroorlog verskaf het.
- Sapa - AFP