Verdagtes vas ná Uganda-bomme
2010-07-13 09:36
Kampala – Uganda het verdagtes in hegtenis geneem nadat ‘n Somaliese militante groep, wat bande met Al-Kaïda het, Maandag verantwoordelikheid aanvaar het vir die dodelike bomaanvalle in Uganda se hoofstad tydens die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Vier en sewentig mense is dood en ‘n selfmoord-bom wat nooit afgegaan het nie is op ‘n derde plek gevind, het ‘n woordvoerder vir die regering Dinsdag gesê.
Die aanvalle is deur rebelle van die Al-Shabaab militante groep by twee restaurante in Kampala geloods terwyl massas mense die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gekyk het.
“Verskeie verdagtes is laat gister in hegtenis geneem nadat ‘n selfmoordbomaanvaller se plofbelt in die Makindye area (van die hoofstad Kampala) gevind is,” het Fred Opolot, ‘n woordvoerder vir die regering, gesê.
Opolot het nie bekendgemaak hoeveel mense in hegtenis geneem is nie.
Al-Shabaab het gedreig om nog aanvalle op Uganda en Burundi te loods as dié lande nie hulle vredesbewaarders uit Somalië onttrek nie.
Opolot het bygevoeg dat ‘n Afrika Unie beraad wat later die maand deur Uganda aangebied word nie gekanselleer sal word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters