Venezuela se ambassade in Tripoli verwoes
2011-08-24 22:55
Caracas – Die president van Venezuela, Hugo Chavez, het gesê dié land se ambassade in Tripoli is “aangeval en heeltemal verwoes”.
Hy het daarop aangedring dat die ambassadeur en sy personeel beskerm word.
Chaves, ’n lojale bondgenoot van die beleërde Libiese leier, Muammar Gaddafi, het die opmerkings by ’n perskonferensie gemaak, terwyl gevegte tussen rebelle en die oorblywende magte lojaal aan Gaddafi voortgeduur het.
“Die ambassadeur van Venezuela bevestig dat ons ambassade in Tripoli aangeval en heeltemal verwoes is,” het Chavez gesê.
“Ons moet aandring op respek vir die integriteit van ons ambassadeur en al sy personeel wat daar werk.”
Chavez staan nog strykdeur die Navo-lugaanvalle op Libië teë en het by verskeie geleenthede die afgelope ses maande sy persoonlike ondersteuning aan die Libiese leier toegesê.
“Kom ons hoop die malligheid word stopgesit. My indruk is dat die tragedie van Libië, van daardie broedervolk wat ’n bestaansreg het en die reg het om hul eie geskiedenis te maak, nou eers begin.”
“Hulle het die land vernietig en dit was nie Gaddafi wat dit vernietig het nie. Dié land het vlamgevat en dit was nie Gaddafi wat die vuur aangesteek het nie. Dis die imperiale malligheid."
Venezuela en Libië is beide lede van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL).
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA