VSA veroordeel aanvalle op kerke in Kenia
2012-07-01 23:01
Washington – Die VSA het die aanvalle Sondag op kerke in Kenia naby die grens met Somalië waarin 17 mense dood en tientalle beseer is, ten sterkste veroordeel.
Aanvallers met klapmusse aan het by twee kerke in Garissa ingebars en op kerkgangers begin skiet. Handgranate is ook in die aanvalle gebruik.
Ooggetuies het gesê lyke het altwee kerke vol gelê.
"Die Verenigde State veroordeel die onlangse aanvalle op onskuldige burgerlikes wat kerkdienste in Kenia bygewoon het ten sterkste," het Jay Carney, 'n woordvoerder vir die Withuis, in 'n verklaring gesê.
Hy het die VSA se medelye met die slagoffers se families betuig.
"Die mense wat hierdie aanvalle uitgevoer het, het gewys hulle het geen respek vir mense se lewens en waardigheid nie, en hulle moet boet vir hierdie afgryslike dade," het hy gesê.
"In hierdie oorgangstydperk is vrede en stabiliteit noodsaaklik vir Kenia se vooruitgang. Ons ondersteun diegene wat Kenia se etniese en godsdienstige diversiteit erken as een van die land se groot pluspunte," het Carney bygevoeg.
"Ons staan saam met die mense van Kenia in hierdie moeilike tyd."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP