VN vra vir vrede in SAR
2011-09-21 16:35
Libreville – Die Verenigde Nasies het ‘n beroep op opposisiegroepe in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gedoen vir ‘n onmiddellike vredesooreenkoms in ‘n jarelange geveg om die land se diamantmyne.
“Die VN is uiters bekommerd oor die gewelddadige gevegte tussen die CPJP en die UFDR in Bria en vra vir ‘n onmiddellike wapenstilstand,” het ‘n verklaring deur die VN se kantoor in die land gelui.
Die verklaring brei uit oor die “verlies aan menselewens en goedere” in gevegte. Die VN het in die verklaring ‘n beroep op beide partye gedoen om die veiligheid van sekere dele van die bevolking, insluitende vroue en kinders, te verseker.
Altesaam 30 mense is die afgelope week in Bria, ‘n dorp in die middel van die land, dood.
Volgens owerhede woed die gevegte tussen die voormalige rebellegroep Union of Democratic Forces for Unity (UFDR) en die rebelle van die Convention of Patriots for Justice and Peace (CPJP).
Die UFDR word beheer deur die Ronga en die CPJP deur die Gola, twee opponerende etniese groepe wat vir jare lank oor die diamantmyne baklei.
Bria is die middelpunt van die land se diamantmynbedryf.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA