VN vol lof vir Soedan-referendum
2011-01-20 08:58
Djoeba - Die stemtelling in Suid-Soedan se onafhanklikheidsreferendum is ‘n hupstoot gegee deur die Verenigde Nasies-sekuriteitsmagte (VN) se lof, maar kommer bestaan oor wrywing in die Abyei-gebied.
Die voorlopige resultate toon groot meerderheidstemme vir ‘n skeiding tussen die hoofsaaklik Christen-suide en Moslem-noorde.
Die Yei-distrik in die suide, naby die Uganda-grens, het ‘n meerderheidstem van 98% vir afskeiding aangekondig. In Wau is ‘n 94% meerderheidstem aangekondig.
“Ons weet die resultaat is vir afskeiding, want dit is wat almal wil hê,” het William Moro, ‘n inwoner van die Suid-Soedanse hoofstad, Djoeba, gesê.
Die gebied se leiers het egter gewaarsku teen voortydige vierings wat ‘n vreedsame oorgang kan beduiwel.
“Ons het klaar die stemme by die stembusse getel. Nou moet elke stembus se resultate bymekaar getel word,” het Aleu Garang Aleu, ‘n woordvoerder vir die Suid-Soedanse Referendum Buro, gesê.
VN-sekuriteitsmagte het lof oor die hantering van die referendum uitgespreek, maar ook kommer oor die wrywing in die Abyei-distrik op die grens tussen noord en suid waar talle mense vroeër dié maand tydens onluste dood is.
Dié gebied sal in ‘n aparte referendum vir moontlike afskeiding stem. Die referendum is egter uitgestel.
Haile Menkerios, aan die hoof van die VN se verrigtinge in Soedan, het gesê “die pogings om geweld in die area te voorkom kan die situasie ontlont, maar die onsekerheid wat in die gebied heers maak konflik in die toekoms moontlik.”
Die getal VN-vredesbewaarders in die gebied is vermeerder en patrollies is ook verskerp, het Menkerios gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP