VN veroordeel ontvoering van noodwerkers
2011-10-14 10:43
Genève – Die hoof van die Verenigde Nasies se vlugtelingsagentskap het Donderdag die ontvoering van twee Spaanse noodlenigingwerkers in Kenia se Dadaab-vlugtelingskamp as “onaanvaarbaar” bestempel.
Die twee Spanjaarde is deur Somaliese Islamitiese al-Shebaab-rebelle ontvoer.
“Hierdie Dokters Sonder Grense (MSF)-kollegas werk hard om mense se lewens te probeer red,” het Antonio Guterres, die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge, in ‘n verklaring gesê.
“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat hulle die teikens vir ontvoering word. Ek doen ‘n beroep op die ontvoerders om hulle onmiddellik en veilig terug te besorg.”
Kenia het ‘n soektog van stapel gestuur, maar die vroue is glo na die grens met Somalië geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP