VN veroordeel Shabaab-aanvalle op organisasies
2011-11-29 11:58
Mogadisjoe – Die Verenigde Nasies (VN) het Maandag die “onbeskaamde” gewapende klopjagte deur Islamitiese burgermagte op die VN en ander internasionale hulplenigingsorganisasies se kantore in Somalië veroordeel.
Ban Ki-moon, die sekretaris-generaal van die VN, eis dat die militante groepe hul bevel dat dié organisasies moet toemaak, terugtrek, het Martin Nesirky, sy woordvoerder, gesê.
Ban “veroordeel ten sterkste” die beslaglegging van eiendom en toerusting wat aan hulpleniginggroepe behoort, het Nesirky gesê.
“Hierdie onbeskaamde dade verhoed die organisasies om hulp en ondersteuning wat lewens kan red te verskaf.”
Die Islamitiese al-Shabaab-rebelle het beveel dat 16 internasionale hulplenigingsagentskappe toemaak ná gewapende klopjagte op talle van die agentskappe se kantore.
Ses van die VN se agentskappe was onder die wat moes toemaak, insluitend die VN se Hoëkommissariaat vir vlugtelinge (UNHCR), die VN se kinderfonds (Unicef), die Wêreld Gesondheidsorganisasie en die VN se bevolkingsfonds (UNFPA).
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP