VN tree in om Niger krisis te ontlont
2009-07-21 16:12
Niamey, Niger – Die Verenigde Nasies (VN) en die Afrika Unie het diplomatiese stappe opgeskerp om die krisis in Niger te ontlont.
Mamadou Tandja, die president van hierdie land, probeer vasklou aan sy magsposisie nadat sy termyn hierdie jaar verval, het die staatsmedia berig.
‘n Afvaardiging van verteenwoordigers wat reeds in die land is sluit in Said Djinnit, die VN se hoof-verteenwoordiger in Wes-Afrika, Ambroise Niyonsaba van die Afrika Unie en Mohamed Ibn Chambas, die hoof van die Economic Community of West African States (ECOWAS).
Die verteenwoordigers het Maandag samesprekings met die eersteminister, Seini Oumarou, gehou oor die “politiese situasie wat in Niger aangaan,” het Tele Sahel berig.
Hulle het ook met die land se voorste opposisie-leiers ontmoet, onder andere Mahamadou Issoufou en Mahamane Ousmane, die voormalige speaker van die parlement.
Dit is nog nie duidelik of die afgevaardigdes met president Tandja gaan ontmoet nie.
Na ‘n dekade van stabiliteit in die distrik is Niger in die laaste paar weke in ‘n ernstige politieke krisis gedompel as gevolg van Tandja se behoefte om sy magsposisie te behou nadat sy mandaat hierdie jaar verval.
- Sapa - AFP