VN probeer afgeleë stam red
2011-07-01 09:29
Juba – Die Verenigde Nasies het Donderdag in ‘n verslag gesê dat Soedan hom volle toegang weier tot duisende burgers in ‘n omgewing tussen die noorde en suide waar geweld nog voortduur, enkele dae voor Suid-Soedan amptelik onafhanklikheid verkry.
Die Nuba-stam, 'n stam wat teen die heerskappy van Soedan se Arabiese noorde is, het skuiling gaan soek in die Nuba-gebergtes weens aanvalle deur die weermag in Suid-Kordofan, ‘n gedeelte van Soedan se noorde.
Ten minste 73 000 mense het op die vlug geslaan.
Volgens ‘n interne VN-verslag is talle mense gedood deur bomme en vuurwapen-aanvalle en word daar deur-tot-deur-soektogte gedoen deur die noordelike weermag op soek na Nuba-stamlede. Omdat die VN nie toegang tot die mense het nie, kon hulle nog nie duidelikheid kry oor hoeveel mense vermoor is nie.
Aanvalle op die Nuba-stam het op 5 Junie begin en het die bombardering van ‘n VN-vliegveld in Kauda ingesluit. Dit het noodwerkers en VN-personeel verhoed om in te kon vlieg.
Die Nuba-stamme ondersteun oor die algemeen Suid-Soedan en het in die burgeroorlog wat in 2005 geëindig het, vir hulle geveg.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP