VN-direkteur deur polisie in S-Soedan aangerand
2011-08-26 12:10
Juba – ‘n Direkteur van die Verenigde Nasies (VN) se menseregte-sending in Suid-Soedan is glo deur ‘n groep polisiebeamptes aangerand, volgens bronne en VN-dokumente.
Volgens die dokumente is Benedict Sannoh, wat van Wes-Afrika afkomstig is, Saterdagoggend by Juba se Suid-Soedan-hotel deur tussen 10 en 14 polisiebeamptes geklap, geskop en geslaan.
Hulle het dit glo gedoen nadat hy geweier het dat hulle sy persoonlike besittings deursoek.
Hy is daarna in ‘n voertuig gelaai en “gedwing om te sit terwyl ander polisiebeamptes hom geskop het,” volgens ‘n VN-dokument wat aan Reuters verskaf is.
“Ons is bewus van die voorval. Dit is ‘n oortreding van ons ooreenkoms met die regering van Suid-Soedan,” het Aleem Siddique, ‘n VN-woordvoerder, gesê.
“’n Ondersoek is onderweg,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters