VN: Italiaanse noodwerker in Darfoer ontvoer
2011-08-16 13:17
Kartoem – Gewapende mans het 'n Italiaanse noodlenigingswerker in Darfoer ontvoer, het die vredesending van die Verenigde Nasies en die Afrika-unie in Darfoer (UNAMID) gesê.
UNAMID het gesê dat die Italianer saam met twee Soedannese kollegas in Nyala in die suide van Darfoer gery het. Hulle voertuig is deur gewapende mans afgetrek en die passasiers is gedwing om uit te klim.
Die mans het die Italianer weggeneem.
Daar is geen nadere inligting oor die Italianer se identiteit of werkgewer nie.
Onrus heers in Darfoer sedert 2003, toe etniese Afrika-rebelle die hoofsaaklik Arabiese regering van Soedan van diskriminasie beskuldig het en in opstand gekom het.
Die VN reken sowat 300 000 mense is dood en 2,7 miljoen is ontwortel sedert die begin van die konflik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP