VN: Een uit drie Somaliese kinders ondervoed
2011-06-30 10:24
New York - ‘n Droogte en hoë kospryse het ‘n groot bydrae gemaak tot die groeiende probleem van wanvoeding in Somalië, waar die situasie besig is om al hoe vinniger agteruit te gaan, het die Verenigde Nasies gesê.
“Ons het tans die hoogste tempo van wanvoeding in die hele Afrika. Meer as 30% van die kinders ly aan akute wanvoeding,” het Mark Bowden, die VN se humanitêre koördineerder in Somalië, gesê.
“As ons nie iets daaraan kan doen nie, sal baie meer kinders hulle lewens verloor as gevolg van wanvoeding,” het hy gesê.
Volgens Bowden het ‘n 270%-styging van kospryse en die effek van ‘n 2010-droogte op kosproduksie gemaak dat ‘n groot gedeelte van die bevolking nie in staat is om aan hul voedselbehoeftes te voldoen nie.
Daar is ‘n beroep op internasionale hulp gedoen, maar daar is slegs aan sowat 40% van die versoeke gehoor gegee, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP