VN: Zimbabwiese kinders met MIV nie behandel
2011-09-09 10:08
Harare – Duisende Zimbabwiese kinders gaan elke jaar weens MIV-verwante siektes dood omdat hulle in die meeste gevalle nie met antiretrovirale medisyne behandel word nie, het die Herald-koerant Donderdag berig.
“Tussen 6 000 en 7 000 kinders sterf elke jaar weens MIV sonder om antiretrovirale medisyne te kry,” het Peter Salama, hoof van die Verenigde Nasies se kinderagentskap (Unicef) in Zimbabwe, gesê.
'n Tekort aan mediese tegnologie beteken ook dat talle kinders nie vir MIV getoets word nie, het Salama tydens ‘n vigs-konferensie in Harare gesê.
“Dit is belangrik dat kinders baie vroeg vir vigs getoets word omdat die wat nie getoets word nie, nie eers twee jaar oud sal word nie,” het hy gesê.
Volgens die Amerikaanse Elizabeth Glazer Pediatriese Stigting is sowat 13% van swanger vroue in Zimbabwe met die MIV-virus besmet.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA