VN: 60 000 Soedannese ontwortel deur konflik
2011-11-25 11:08
Kartoem – Duisende burgers word geraak deur die gevegte tussen die Soedannese weermag en die rebelle in Soedan se Blue Nile-staat aan die grens met Suid-Soedan, het die Verenigde Nasies Donderdag gesê.
“As gevolg van die voortslepende konflik word burgerlikes aanhoudend ontwortel... Die Soedannese Rooi Sekel-vereniging (SRCS) het gesê dat meer as 60 000 mense nog in die staat ontwortel is,” het die VN se humanitêre kantoor (OCHA) gesê.
OCHA se nuutste verslae kom drie weke nadat die Soedannese weermag Kurmuk, ‘n sleutelvesting van die rebelle, oorgeneem het en aangekondig het dat hulle die SPLM-Noord-rebelle in die Blue Nile-staat oorwin het.
Volgens die verslag is ‘n aantal mense dood en beseer tydens lugaanvalle op 12 November in Wadega, in die suide van die staat.
Die departement van buitelandse sake het striemende internasionale kritiek ontlok toe hy vroeër die maand gesê het dat geen Soedannese vlugtelinge in Suid-Soedan skuil nie. Die departement het verder gesê dat die wat wel in vlugtelingskampte oor die grens woon, rebelle is wat deur die Juba-regering ondersteun word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP