Uitgeweke Libiese vlieëniers keer terug huis toe
2011-09-19 07:59
Valletta – Twee Libiese vlieëniers wat in
Februarie na Malta uitgewyk het nadat hulle geweier het om burgerlikes te
bombardeer, het Sondag teruggekeer huis toe.
Hulle sal hulle nou by Libië se nuwe lugmag
aansluit.
Die vlieëniers het aan verslaggewers gesê
hulle was die enigste instrukteurs in die Libiese lugmag. Hulle het gevra om om
veiligheidsredes anoniem te bly.
Hulle het op 21 Februarie, kort ná die
begin van die Libiese revolusie, besluit om uit te wyk. Hulle het aangevoer dat
hulle deur die regime van die voortvlugtende Muammar Gaddafi beveel is om
’n dorpie met ongeveer 1 300 inwoners aan te val.
Hulle het onmiddellik ná opstyging hul
radiofrekwensie verander en onder die radarvlak noordwaarts na Malta begin
vlieg.
Die vlieëniers het gesê hulle het in
daardie stadium meer vir hul land as vir hul families of enigiets anders
omgegee. Hulle het op God vertrou en hul gebede is verhoor toe die Gaddafi
ontsetel is.
Hulle het Malta vir sy ondersteuning
bedank, veral omdat die Maltese regering herhaaldelik geweier het om hulle en
hul Mirage-vliegtuie terug te stuur.
Lawrence Gonzi, die Maltese premier, het
gesê die uitgewekenes het ’n belangrike boodskap aan die Libiërs en die
internasionale gemeenskap gestuur.
– Die Burger
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA