Uitgeskopte VN oorweeg volgende stap
2009-10-29 14:35
Johannesburg - Die spesiale rapporteur van die VN se kommissie oor marteling is oppad terug na SA nadat dié groep toegang tot Zimbabwe geweier is.
“Hulle is oppad terug na Johannesburg en sal oor hulle volgende stap besluit,” het Claudia de la Fuente, uit die kantoor van spesiale rapporteur, Manfred Nowak, aan AFP gesê.
Nowak en sy span wou ‘n agt dae feiteondersoek na beweerde menseregte-skendings en die teistering van Tsvangirai-ondersteuners deur polisie hervat, toe hulle deur immigrasie beamptes toegang tot die land geweier is.
Die Herald-staatskoerant sê Nowak wou “ongenooid in die land opdaag” terwyl buitelandse ministers van die SADC-komitee, in Harare vergader om vordering van dié land se koalisieregering te bespreek.
“Die regering het reeds vir Nowak gesê dat hy op ‘n latere tydstip die land sal moet besoek, aangesien Zimbabwe tans gasheer speel vir buitelandse ministers van die SADC-komitee vir politiek, verdediging en sekuriteit," het die Herald gesê.
“Ons het Geneva en die kantoor van die VN gevra dat hulle die besoek uitstel, het Joey Bimha, sekretaris vir buitelandse sake aan dié koerant gesê.
- Sapa-AFP