Ugandese opposisieleier gearresteer
2011-10-18 19:04
Kampala – Kizza Besigye, die Ugandese opposisie-leier, is vlugtig Dinsdag in hegtenis geneem omdat hy deelgeneem het aan die “loop-na-werk”-protesaksie teen die stygende verbruikerspryse en regeringsbesteding in Kampala, het sy party gesê.
Die jeug van die opposisie was woedend oor Besigye se inhegtenisnaming en het verbygaande voertuie met klippe bestook en vensters gebreek. Waterkanon-vragmotors moes inbeweeg en het die jongmense met pienk vloeistof besproei.
“Hy is in hegtenis geneem. Hy word by die Kasangati-polisiekantoor aangehou saam met die drie mense saam met wie hy werk toe geloop het,” het Anne Mugisha, ‘n beampte van Besigye se FDC-party, gesê.
Die polisie het later gesê dat Besigye vrygelaat is en na sy huis in die Kasangati-voorstad geneem is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters