Uganda-polisie gryp meer as 20 ná bomme
2010-07-14 10:51
Kampala. - Die Ugandese polisie het ’n selfmoordbombaadjie gevind waarvan die plofstof nie ontplof het nie.
Hulle het ook meer as 20 Somaliërs en Ugandese gearresteer wat vermoedelik die bomontploffing beplan het wat Sondag tot die dood van 76 sokkeraanhangers gelei het, het ’n intelligensiebron gesê.
Somaliese Al-Sjabaab-Islamiste wat bande met Al-Kaïda het, het eergister gesê hulle het die aanvalle op ’n stampvol restaurant en rugbyklubgebou uitgevoer terwyl sokker-aanhangers op TV na die WB 2010-eindstryd gekyk het.
Dinsdag het ’n amptenaar van die groep gesê geen selfmoordbomaanvallers was by dié aanval in Uganda, wat vredesoldate in Somalië het, betrokke nie.
’n Ugandese intelligensiebron het gister gesê intelligensie-amptenare het verlede maand inligting ontvang dat ’n aanval beplan word.
“Op 17 Junie het ’n informant van die Kiseyi-buurt in Kampala hulle vertel dat ’n groep Somaliërs ’n aanval tydens WB 2010 beplan,” het die bron gesê.
Volgens die amptenaar was meer as 20 mense, Somaliërs sowel as Ugandese, by die beplanning van die aanval betrokke. “Ons het tot dusver ses mense van daardie bende gearresteer.”
Al-Sjabaab het met nog aanvalle gedreig tensy Uganda en Burundi hul vredesoldate onttrek uit Amisom, die Afrika-Unie-vredesmag in Somalië, waar militante teen die regering veg en groot dele van die land beheer.
Die selfmoordbomaanvalbaadjie wat die polisie eergister laat gekry het, kan gedra word of as ’n bom geplant word, het die polisie gesê.
“Rage het dié wat die aanval uitgevoer het, geseën en ’n lang lewe word vir hulle verwag. Dit wys dat daar geen selfmoordbom was nie,” het ’n man gesê wat homself net as Yonis, ’n assistent van sjeg Ali Mohamoed Rage, Al-Sjabaab se woordvoerder, geïdentifiseer het.
Al-Sjabaab het sokkerkykery in dele onder sy beheer verbied en die bomaanval op mense wat gedrink het terwyl hulle na die WB 2010-eindstryd gekyk het, as ’n dubbele uitklophou beskou: Ongelowiges is vermoor en die Ugandese troepe se indringing is gewreek.
Gekoördineerde aanvalle is ’n kenmerk van Al-Kaïda en groepe wat bande daarmee het.
As dit bevestig kan word dat Sondag se ontploffing wel die werk van Al-Sjabaab is, sal dit die groep se eerste internasionale aanval wees.
Uganda sal steeds as gasheerland vir ’n spitsberaad van Afrika-Unie-leiers en die Afrika-Unie (AU) optree en nie van sy vredesending afsien nie, het die AU gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters