Uganda ontken ondersteuning van rebelle
2012-08-03 18:51
Kampala – Uganda het ontken dat hy enige rebelle in die Demokratiese Republiek van die Kongo ondersteun – ‘n dag ná die Verenigde Nasies (VN) gevra het dat ander lande nie die rebellie in dié land moet ondersteun nie.
“Lede van die VN se Veiligheidsraad wil hul sterk veroordeling van die ondersteuning van die M23-rebelle herhaal, en dring daarop aan dat enige land wat die rebellie ondersteun dit moet stopsit,” lui 'n verklaring van die VN.
“Dit is nonsens, uiterse nonsens en kan ek herhaal, nonsens,” het Henry Okello Oryem, Uganda se minister van buitelandse sake, Vrydag tydens ‘n mediakonferensie gesê.
“Die wat vinger wys ná die regering van Uganda wil die ondergang van die streek bewerkstellig.”
Uganda hou volgende week ‘n beraad wat daarop gemik is om die onstabiliteit in die Kongo op te los. Rebelle het al verskeie dorpies teen die grens oorgeneem.
Die M23-groep, wie se leier Bosco Ntaganda deur die Internasionale Strafhof gesoek word op aanklagte wat verband hou met oorlogsmisdade, het in April weggebreek van die weermag om ‘n opstand te begin.
Die rebelle is nou besig om toe te sak op die Nord Kivu-provinsie, die streek waar die Kongo en Uganda aanmekaar grens.
‘n Verslag van die VN het Rwanda daarvan beskuldig dat hulle die rebellie aanmoedig, ‘n aantyging wat deur Joseph Kabila, president van die Kongo, herhaal is.
Aantygings dat Uganda ook vir M23 ondersteun het van Kongolese burgerlike groepe gekom.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP