Uganda-bomme: VSA wil help
2010-07-12 20:12
Washington - Hillary Clinton, die VSA se minister van buitelandse sake, sê die VSA sal saam met die Ugandese regering werk om bomaanvallers in Kampala aan die pen te laat ry.
Minstens 63 mense is Sondag in die Ugandese hoofstad dood in twee bomaanvalle by kuierplekke wat die finaal van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika vertoon het.
Clinton het die aanvalle ten sterkste veroordeel.
Een Amerikaner is in die ontploffings dood.
VSA-president Barack Obama het vroeër sy stem by kritiek teen die voorvalle gevoeg.
Obama het gesê hy is "baie hartseer oor die lewensverlies wat deur die lafhartige aanvalle teweeggebring is."
Ugandese polisie vermoed 'n Somaliese militante groep met 'n verbintenis aan Al-Kaïda was verantwoordelik vir die ontploffings.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP