Uganda: Verkiesing mag Museveni se 25-jaar bewind nóg verleng
2011-02-18 09:42
Kampala – Ugandese burgers het vanoggend vir ’n nuwe leier begin stem.
Die verkiesing sal na verwagte die huidige presient, Yoweri Museveni, se bewind voortsit, met ’n versplinterde opposisie wat van vuilspel kla selfs voor die stemmery begin het.
’n Nuwe bestuurstermyn van die Oos-Afrika-land sal die voormalige rebelleleier se heerskappy na 30 jaar verleng. Maar sy teenstanders waarsku dat Uganda ryp was vir die soort opstande wat tans deur die Arabiese wêreld ruk.
Stemmery het amptelik om 07:00 (04:00 GMT) afgeskop, maar net ’n handjievol kiesers het vroeg in die hoofstad van Kampala opgedaag, terwyl stemdag-toerusting nog besig was om opgestel te word.
Daar is sowat 14 miljoen kiesers in Uganda.
Museveni se hoof-teenstander, Kizza Besigye, beweer slegs vuilspel deur die regering kan hom van ’n oorwinning ontneem. Hy het belowe om binne 24 uur vanaf die einde van die stemmery sy eie stel resultate vry te stel.
“Kampala is vir Besigye, selfs Museveni weet dit,” het Kanaabi Quraish, ’n agent vir Besigye se Forum vir Demokratiese Verandering, by die stempunt gesê.
Museveni (66) voorspel 'n oortuigende oorwinning en belowe om op betogings toe te slaan.
“Daar sal nie ’n revolusie soos in Egipte hier plaasvind nie… Egipte is ’n ander storie. Tunisië is ’n ander storie,” het hy Woensdag gesê.
“Dit sal ’n groot oorwinning wees,” het Museveni gesê.
Hy is plaaslik en internasionaal gekritiseer oor menseregte, maar het Uganda na ’n gemiddelde groeikoers van 5% sedert 2004 gelei en homself as ’n belangrike sekuriteits-bondgenoot van die Weste bewys.
Besigye, die mees prominente van Museveni se sewe teenstaanders, het die bewind en die verkiesingskommissie alreeds daarvan beskuldig dat dit wydverspreide vuilspel beplan om Museveni se herverkiesing te verseker.
Gedurende sy slotsaamtrek het hy vir massa-betogings geroep as amptelike resultate nie verloop soos wat hy wil hê nie.
“As die verkiesingskommissie resultate vrystel wat ons weet bedrieglik is, sal ons die Ugandese mense aanraai om die saak direk te hanteer,” het hy vroeër vandeesweek gesê.
Tydens Museveni se bewind is duisende veiligheidswagte regoor die land ontplooi en die verkiesingskommissie het gewaarsku teen enige ander liggaam wat resultate vrystel.
“Die mag om resultate van die presidensiële verkiesings te verklaar is by die nasionale verkiesingskommissie gesetel,” het Badru Kiggundu, hoof van die verkiesingspaneel, gewaarsku.
Ugandese, wat hul parlementsleiers en hul president Vrydag verkies, het nog nooit demokratiese magsverandering gesien nie.
“Teen die einde van hierdie vyf jaar sal Uganda ’n gemiddelde-inkomste land wees. Ek sal nie toelaat dat Besigye en ander daardie plan opmors nie,” het Museveni gesê.
Waarnemers sê die opposisie se beste hoop is om vir Museveni van meer as 50% van die stemme te ontneem en om dan in ’n tweede rondte teen hom te verenig.
As hy sy tweede termyn voltooi sal Museveni deel vorm van ’n verkose klub Afrika-leiers, soos Libië se Moammar Gadhafi en Zimbabwe se Robert Mugabe, wat vir meer as 30 jaar aan bewind is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP