Uganda: Gay-wette onder loep
2011-05-10 12:18
Kampala - ‘n Komitee van die Ugandese parlement hou ‘n tweede dag van hofverhore oor ‘n omstrede anti-gay wet wat wêreldwyd veroordeel is weens sy streng strawwe.
Wetgewers het gesê dat daar in hierdie week oor die wetsontwerp gestem kan word.
Die wetsontwerp is die eerste keer in 2009 voorgestel, maar min vordering is gemaak nadat 'n storm van kritiek oor die voorsiening van die doodstraf in die oorspronklike wet gebars het.
'n Komiteevergadering is verlede Vrydag gehou, waartydens die wet vir die eerste keer openbaar voorgelê is sedert sy voorstelling 18 maande gelede.
David Bahati, die skrywer van die wet, het gesê dat die doodstraf “iets is waarvan ons wil wegbeweeg.”
Daar word nou onderhandel en gepraat oor die wet sodat daar ‘n nuwe weergawe voorgestel kan word voor die finale stem gehou word.
Martin Ssempa, ‘n pastoor wat teen gays is en die wet ondersteun, het gesê dat hy nie die voorsiening van die doodstraf ondersteun nie. Hy dink dat gays eerder tot sewe jaar tronkstraf behoort te kan kry.
“Die parlement moet die geleentheid kry om die wet te bespreek en goed te keur, want homoseksualiteit is besig om die samelewing uit te moor,” het Ssempa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP