Uganda: 8 oorleef helikopter-ongeluk
2012-08-14 16:59
Nairobi – Agt Ugandese soldate het ‘n helikopter-ongeluk oorleef, terwyl twee soldate in ‘n ander ongeluk omgekom het, het amptenare bekend gemaak.
“Ons het agt oorlewendes gered,” het Simon Gitau, ‘n senior hoof by Kenya Wildlife Service, gesê.
“Hul helikopter het neergestort, maar het gelukkig nie aan die brand geslaan nie.”
Die agt oorlewendes het Dinsdag 8 km ver gestap om hulp te kry.
“Hulle is almal in ‘n goeie toestand. Ons gebruik nou snuffelhonde om ander oorlewendes, as daar is, op te spoor.”
Die wrakke van die twee helikopters is vroeg Dinsdagoggend gevind. Twee lyke is langs die een wrak gesien wat nog aan die brand was.
“Die een helikopter brand nog, maar ons weet nie of daardie die twee enigste soldate by die wrak was nie. Ons moet dit nog bevestig.”
Kenia se hoof van beskermingsdienste, Julius Karangi, het gesê dat een helikopter “heeltemal verbrand het en dat die ander een êrens oor ‘n krans hang.”
Uganda het vroeër gesê dat minstens 14 mans aan boord die twee helikopters was.
Die helikopters was onderweg na Somalië om soldate daar te help veg teen Shabaab-rebelle.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP