Tweede vliegtuig stort neer in Botswana
2011-10-19 18:49
Gaborone – ‘n Tweede ligte vliegtuig het geval kort nadat dit Woensdag in Botswana se Okavango Delta probeer opstyg het, het AP berig.
Nie een van die ses insittende passasiers is ernstig beseer nie, het die lugredery gesê.
Kagiso Senwedi, die bestuurder van Delta Air, het gesê die passasiers, ‘n Namibiër, vier Franse toeriste en ‘n Suid-Afrikaanse vlieënier, word per boot van die Delta-kamp in die noorde van Botswana na Maun-dorp vervoer.
“Almal van hulle is uiteraard ‘n bietjie skrikkerig en wou nie terugvlieg nie,” het hy gesê. Van die passasiers het ligte beserings opgedoen.
Hy het gesê die maatskappy se Cessna 206-vliegtuig het geval kort nadat dit opgestyg het. Hy het nie verdere inligting gehad nie.
Agt buitelanders is vyf dae gelede in ‘n soortgelyke geval dood waar ‘n vliegtuig net nadat dit opgestyg het, neergestort het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP