Tunisië druk nuwe skoolhandboeke
2011-09-14 11:15
Tunis – Tunisiese kinders gaan binnekort hulle eerste skooljaar begin sedert Zine el Abidine Ben Ali uit die kussings gelig is, met nuwe handboeke wat glad nie na hom verwys nie, het die departement van onderwys Dinsdag gesê.
“Alle paragrawe wat na die voormalige president verwys, is verwyder,” het Mohamed Sfar, die departement se woordvoerder, twee dae voor die skole weer begin, gesê.
Vir die nuwe skooljaar, sedert die vorige regering ná 'n opstand in die land omvergewerp is, is sowat 370 nuwe handboeke, altesaam 12 miljoen eksemplare, gedruk.
“Ons het besluit om enigiets te verwyder met betrekking tot die vorige regime se politieke maskerade,” het Belgacem Lassoued, die hoof van die nasionale opvoedkundige sentrum, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP