Tsvangirai, voormalige minnares skik nie
2012-10-19 16:02
Harare – Morgan Tsvangirai, premier van Zimbabwe, se poging om buite die hof te skik met 'n voormalige minnares, het misluk omdat hul prokureurs verskil oor hul aanbiedinge.
Locardia Karimatsenga Tembo het haar tot die siviele hof gewend en eis maandeliks VSA$15 000 (sowat R129 000) in onderhoudsgeld van Tsvangirai nadat hy getroud is met Elizabeth Macheka.
Hul prokureurs het Donderdag die landdros gevra om die saak uit te stel, terwyl hulle probeer om buite die hof te skik.
"Daar was geen ooreenkoms nie, so die besprekings het op 'n dooie punt uitgeloop," het Everson Samukange, Tembo se prokureur, aan AFP gesê.
"Ek dink nie daar is enige kans vir verdere onderhandelings nie, so ons gaan volgende week terug hof toe."
Samukange het geweier om te sê hoekom 'n ooreenkoms nie bereik is nie.
"Ons kon nie ooreenstem in terme van die ooreenkoms nie."
Dit is nie bekend wat Tsvangirai se maandelikse salaris is nie, maar die gemiddelde salaris van 'n kabinetsminister in Zimbabwe is sowat VSA$900 (sowat R7 700)
Samukange het gesê Tembo stel nie belang in die geld nie, maar wil haar regte as 'n vrou uitoefen. Sy wil ook hê Tsvangirai moet aan haar familie om verskoning vra vir die mislukte huwelik.
"My kliënt is nie 'n armlastige nie. Sy oefen bloot haar regte as 'n getroude vrou uit."
Tsvangirai en Macheka is verlede maand getroud ná Tembo en Nosipho Shilubane van Suid-Afrika probeer het om die huwelik te keer.
Tsvangirai se eerste vrou, Susan, het in Maart 2009 in ‘n motorongeluk gesterf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP