Tsvangirai soek raad by Mosambiek
2011-03-16 08:34
Maputo – Morgan Tsvangirai, Zimbabwe se eerste minister, het Dinsdag ‘n vergadering met Armando Guebuza, Mosambiek se president, gehad om probleme in Zimbabwe se eenheidsregering met Robert Mugabe te bespreek.
“Daar ontwikkel ‘n paar probleme in terme van samehorigheid,” het Tsvangirai gesê. “Ons dink die driespan, waarvan Guebuza die leier is, moet ten volle ingelig wees.
Die driespan, of troika, waarna hy verwys is die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Driespan oor Politiek, Verdediging en Veiligheid.
Die troika moet betrokke wees by die opstel van ‘n “padkaart” vir verkiesings, het Tsvangirai gesê.
Mugabe en Tsvangirai, voormalige teenstaanders, het twee jaar gelede in ‘n eenheidsregering getree na die verkiesing erg skeef geloop het.
Tsvangirai het egter gesê hy wil van Mugabe “skei” nadat een van sy bondgenote, Elton Mangoma, minister van energie, in hegtenis geneem is.
-Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP