Tsvangirai slaan vure dood oor Zim-regering maatskappye wil gryp
2010-02-11 11:49
Sarel van der Walt
Pretoria - Morgan Tsvangirai, MDC-leier en Zimbabwiese eerste minister, het Woensdag vinnig koue water gegooi op ’n aankondiging dat alle wit sakelui in Zimbabwe wat nie die beheer van hul maatskappye aan swart vennote oordra nie, in die tronk gestop sal word.
Zimbabwe se departement van jeugontwikkeling, verinheemsing en bemagtiging het eergister in die staatskoerant aangekondig dat die nuwe wet op 1 Maart in werking tree. Tsvangirai het dit egter verwerp.
Wit sakelui – wie se maatskappye bates van meer as $500 000 het – wat nie binne vyf jaar 51% van hul belange aan “inheemse Zimbabwiërs” oordra nie, kan kragtens die nuwe wet tot vyf jaar tronk toe gestuur word.
Hulle sal ook net 45 dae tyd hê om aan die regering te verduidelik wie hul aandeelhouers is, wat hul nasionaliteit is en of hulle “inheemse” of “nie-inheemse” Zimbabwiërs is.
Tsvangirai, wat as eerste minister in die regering van nasionale regering verantwoordelik is vir beleidsformulering, het in ’n verklaring gesê die regering is nie vooraf in kennis gestel dat die wet in die staatskoerant afgekondig sal word nie. Die kabinet het dit ook nie bespreek nie.
“Dit is gepubliseer sonder dat die prosedure wat deur die grondwet uitgestippel word, gevolg is,” het die eerste minister gesê.
Tsvangirai het mnr. Saviour Kusukuwere, die minister wie se departement vir die publiseer van die wet verantwoordelik was, vir ’n vergadering ontbied.
Hy sal die saak ook met pres. Robert Mugabe bespreek.
Kusukuwere is ’n lid van Mugabe se Zanu-PF wat in 2008 nog die meerderheidsparty in die parlement was toe die wet aanvanklik aanvaar is.
Tsvangirai het gesê die nuwe wet sal buitelandse beleggers afskrik en diskriminerend teenoor swart-beheerde maatskappye van buurlande wees.
Dit sal tot groot nadeel van die Zimbabwiese ekonomie en werkskepping wees.
Sedert onafhanklikwording in 1980 het die wit bevolking van Zimbabwe van sowat 200 000 tot sowat 30 000 gedaal en die meeste groot maatskappye in die land is in swart besit.
- Die Burger