Tsvangirai skik met eks
2012-11-01 16:31
Harare – Morgan Tsvangirai, premier van Zimbabwe, het ‘n skikking buite die hof bereik met 'n vrou wat hom gedagvaar het omdat hy haar gelos het om met ‘n ander vrou te trou.
Locardia Karimatsenga Tembo het $15 000 (sowat R130 000) per maand van Tsvangirai geëis na hy met Elizabeth Macheka getrou het, maar het haar saak teruggetrek ná sy ‘n eenmalige betaling aanvaar het.
“Die saak is nou afgehandel,” het Everson Samukange, Tembo se prokureur, gesê.
“Die premier het ingestem om ‘n bedrag aan my kliënt te betaal, maar ek het nie toestemming om die bedrag bekend te maak nie. Al wat ek kan sê is dat albei partye gelukkig is met die ooreenkoms.”
Die Herald het vroeër berig dat Tembo $500 000 (sowat R4,3 miljoen) en drie beeste van Tsvangirai geëis het. Tsvangirai het egter volgehou dat hy haar net $200 000 (sowat R1,7 miljoen) kan betaal.
Dit is nie duidelik wat Tsvangirai se inkomste is nie, maar die gemiddelde minister verdien sowat $900 (sowat R7 800) per maand.
Sy eerste vrou, Susan, is in Maart 2009 in ‘n motorongeluk oorlede, net ‘n paar weke na Tsvangirai ‘n koalisieregering met pres. Robert Mugabe gestig het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP