Tsvangirai skei ná 12 dae
2011-12-01 11:01
Harare – Morgan Tsvangirai, die premier van Zimbabwe, het gesê hy en sy vrou van 12 dae gaan skei weens “’n groter en dikker komplot” deur staatsagente en die media wat sy vertroue in die verhouding geruk het.
Tsvangirai het Woensdag ‘n verklaring uitgereik wat gesê het sy huwelik met Lorcadia Karimatsenga is “onherstelbaar beskadig tot ‘n punt waar ‘n huwelik nou ondenkbaar is.”
Tsvangirai en Karimatsenga het op 18 November ‘n tradisionele troue gehad.
“Ek het die huwelik goed bedoel en wou graag my familie herbou en oor begin nadat my (eerste) vrou dood is. Maar sedert die eerste dag het alles in die media uitgespeel en het ek ‘n onskuldige bystander geword.
“Alles gebeur nou te vinnig, op kamera en sonder my kennis. Dit het gemaak dat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat daar ‘n groter en dikker komplot rondom die saak is wat my vertroue in die verhouding geruk het,” het hy gesê.
Sedert die aankondiging van die troue het staats- en sosiale media Karimatsenga agtervolg.
Zimbabwiese media het berig dat Karimatsenga reeds ‘n tweeling verwag en dat dit die rede is hoekom hulle getrou het.
Pres. Robert Mugabe het vroeër die dag gesê dat die media sy koalisie-vennoot se privaatlewe moet respekteer.
“Almal het ‘n reg om te kry waarvoor hulle wens. Maar Tsvangirai word nou elke dag deur die media geteiken. Asseblief, los hom uit,” het Mugabe aan joernaliste gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA