Tsvangirai kry gesogte eerbewys van Frankryk
2012-08-22 12:20
Harare – Morgan Tsvangirai, Zimbabwe se premier, is met Frankryk se mees gesogte eerbewys bekroon vir sy bydrae tot die stryd van demokrasie in Zimbabwe.
“Namens die president van Frankryk, slaan ons jou tot ridder, bevelvoerder van die Legioen van Eer,” het Francois Pogne, die Franse ambassadeur vir Zimbabwe, gesê.
“Die Legioen van Eer is Frankryk se hoogste eerbewys.
“Ons almal onthou die foto’s wat wêreldwyd opslae gemaak het toe jy erg opgeswel was toe jy die tronk verlaat het waar hulle jou aangerand het.”
“Diegene wat jou aangerand het, het gedink hulle kan jou wegdwing van jou politiek af, jou verneder en jou afbring. Hulle het vergeet dat as mens yster slaan kan mens partykeer ‘n swaard maak.”
Tsvangirai het die toekenning aan die mense van Zimbabwe opgedra.
“Die eer is nie myne nie. Ek wil hierdie toekenning aan die mense van Zimbabwe gee wat lank saam ons vir ware demokrasie gestry het,” het Tsvangirai gesê.
“Ons het onnodig in hierdie land bloed vergiet. Ek is bly dat president Mugabe openlik gesê het dat daar nie meer geweld moet wees nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP