Troepe skiet drie, ontvoer talle
2009-09-30 03:46
Conakry - Guinese soldate het Dinsdag nog drie mense geskiet en talle ander uit hospitale ontvoer.
Die huidige veldtog is een van die mees geweldadige wat die militêre regime tot nog toe geloods het.
Minstens 157 mense is Maandag geskiet, meer as 1 000 is gewond en talle vroue is verkrag toe soldate ’n byeenkoms in ’n stadion ontwrig, sê leiers van die opposisie.
"Twee mense is vandag in Wanidara geskiet en een in Cosa," het Thierno Maadjou Sow, ’n amptenaar vir die Guinese organisasie vir die verdediging van menseregte, gesê.
Wanidara en Cosa is woonbuurte buite die hoofstad, Conakry.
Sow het ook vertel hoe soldate gewondes uit die Donka-hospitaal na onbekende bestemmings ontvoer het.
Verkragtingslagoffers, wat besig was om behandeling te ontvang by die Ratoma-kliniek buite Conakry, is ook weggeneem, het die amptenaar gesê.
Hy kon nie sê hoeveel mense ontvoer is nie.
Die Verenigde Nasies, Afrika-unie en die Europese Unie het almal hul kommer uitgespreek oor die moorde, wat begin plaasvind het toe tienduisende mense Maandag ’n optog teen Moussa Dadis Camara bygewoon het.
Camara is die leier van die land se militêre junta. Hy het in Desember 2008 aan bewind gekom.
- Sapa-AFP