Tienduisende kry masels in Afrika
2010-04-22 15:16
Johannesburg – Die Verenigde Nasies se kinderorganisasie (Unicef) het gesê 16 lande in Wes- en Sentraal-Afrika is hierdie jaar deur ‘n masels-uitbreking getref.
Unicef het Donderdag gesê dat 185 mense dood is onder meer as 22 000 gevalle wat aangemeld is.
Die agentskap het bygevoeg dat hulle $16 miljoen (R119 miljoen) benodig vir hul immunisasieveldtog in Afrika.
In meeste lande in Wes- en Sentraal-Afrika is minder as 80% van die bevolking geïmmuniseer, het Unicef gesê.
Meer as 400 mense het verlede jaar in Wes-Afrika gesterf weens masels.
Masels is een van die aansteeklikste siektes wat bestaan.
In arm lande kan die siekte soveel as 30% van die kinders wat dit kry eis, veral dié met verswakte immuniteitstelsels.
- Sapa-AP