Tien dood in bomontploffing in Nigerië
2011-05-30 10:01
Abuja - Minstens tien mense is dood tydens bomontploffings by ‘n biertuin en eetplek in Nigeriese militêre barakke, slegs ure ná Goodluck Jonathan as president ingehuldig is.
Drie bomontploffings het by ‘n mark in die barakke in Bauchi plaasgevind. Hierdie omgewing is veral erg getref deur na-verkiesingsbetogings.
Die aanvalle by die mark is glo met “plaaslik vervaardigde toerusting” uitgevoer, het Abdulkadir Indabawa, die Bauchi-staatspolisiekommissaris, gesê.
Owerhede kon nie duidelikheid gee oor hoeveel mense tydens die aanval dood is nie.
‘n Noodwerker wat anoniem wou bly het egter gesê dat minstens tien mense dood en sowat 20 beseer is.
Dit is nie bekend wie agter die aanvalle is nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP