Tenke hou wag buite paleis
2010-02-19 17:35
Niamey – Niger se nuwe militêre heersers het tenke en trokke wat met masjiengewere belaai is, buite die ontvoerde president Mamadou Tandja se paleis parkeer.
Volgens AFP het militêre trokke met outomatiese masjiengewere ook buite die kantore van die eerste minister en die buitelandse ministerie gestaan.
Die junta het nog nie bekend gemaak waar hulle die 71-jarige president aanhou nie.
Volgens Tandja se regering word hy by 'n militêre basis op die buitewyke van die hoofstad Niamey aangehou.
Daar was geen teken van nuwe geweld ná Donderdag se gevegte buite die paleis waar drie soldate doodgemaak is en Tandja ontvoer is nie.
- Sapa-AFP