Te min wapens vir Libiese rebelle
2011-08-08 22:56
Zliten – Rebelle in Zliten, aan die weste van Libië, het glo baie min ammunisie en is sedert Sondag op die defensief, terwyl Muammar Gaddafi se magte van die suide af op die aanval is.
Abdul Wahab Melitan, ‘n woordvoerder vir die rebelle, het gesê Gaddafi se troepe het ‘n aanval geloods op rebelle in die Souk Telat-gebied van die dorp. Drie rebelle is dood en ten minste 15 is beseer, het hy gesê.
“Die rebelle kort ammunisie om op die aanval te kan wees en ons wil nie die risiko loop om enige grondgebied te verloor nie,” het Melitan gesê.
Intussen het ‘n rebel van Al-Qusbat, sowat 90 km van Tripoli af, gesê dat hulle reeds vier dae lank aangeval word.
‘n Groep van die rebelle het verlede week Gaddafi se magte wat in een van dié dorp se skole gebaseer was oorval, maar moes sedertdien hard veg om beheer daaroor te hou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP