Talle sterf tydens DRK-verkiesings
2011-11-29 10:00
Lubumbashi – Tussen sewe en elf mense is Maandag dood tydens die verkiesing in die stad van Lubumbashi in die Demokratiese Republiek van die Kongo, het beamptes gesê.
Moise Katumbi, ‘n provinsiale goewerneur, het gesê elf mense is dood tydens vermeende separatiste se aanval op ‘n stemlokaal.
Kapt. Katchong Mbav, ‘n militêre woordvoerder, het egter gesê die dodetal is sewe.
Van die slagoffers sluit in twee polisiebeamptes by die stemlokaal wat koelbloedig doodgeskiet is en ‘n vrou wat gaan stem het. Beide bronne sê die vrou is deur ‘n dwaalkoeël getref.
Mbav het gesê vier van die aanvallers is ook dood ná die aanval op die stemlokaal in die sentrale Njanja-omgewing.
‘n Aantal polisiebeamptes is beseer en sewe van die aanvallers is in hegtenis geneem, het hy gesê.
Katumbi het weer gesê dat agt van die aanvallers doodgeskiet is en dat elf in hegtenis geneem is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP