Vermeende renosterstropers in Swaziland vas
2011-06-09 13:59
Mbabane - Die polisie in Swaziland het twee vermeende renosterstropers in hegtenis geneem, berig RSG.
Dit is die eerste keer die afgelope 20 jaar dat 'n renoster in dié land doodgemaak is.
Wendy Hleta, 'n woordvoerder van die polisie, het gesê 'n tradisionele geneser en sy neef is aangekeer nadat wildbewaarders van die Hlane Royal Nasionale Park die naweek op die renosterkoei afgekom het.
Die renoster is doodgeskiet en die horing is verwyder.
Mike Richardson, 'n woordvoerder vir die maatskappy wat Swaziland se nasionale parke bestuur, het gesê dit is moeilik om te sê hoe groot die verlies van die renoster is, omdat Swaziland nie wil bekendmaak hoeveel renosters in die parke is nie.
Natuurbewaarders vermoed dat daar sowat 'n honderd in die parke is.
Renosterstropery floreer in Suid-Afrika wat sowat 21 000 renosters het.
Verlede jaar is na raming een renoster per dag in die land doodgemaak.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- RSG