Suid-Soedannese begin stem in referendum
2011-01-09 07:50
Meer as 3,9 miljoen Suid-Soedannese gaan vandag na die stembus om Afrika en die wêreld se jongste nasie te word.
Dit kom ná ’n burgeroorlog van 21 jaar wat 2,5 miljoen lewens, waaronder dié van dr. John Garang, die “vader” van dié land, geëis het.
Veiligheidsmaatreëls in die hoofstad, Djoeba, is verskerp nadat vier regeringsoldate en twee rebelle in die noorde van die land dood is op die vooraand van die referendum om van Noord-Soedan af te stig.
Regeringsoldate het gister twee rebelle in ’n hinderlaag gelok en doodgeskiet. Die rebelle het vier soldate in ’n teenaanval doodgemaak.
“Daar is rebelle, lojaal aan die Khartoem-regering, in ons midde.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om die referendum te beskerm,” het ’n regeringswoordvoerder gesê.
Die referendum vir onafhanklikheid duur sewe dae en die voorlopige uitslag word einde vandeesmaand verwag. Daarna volg ’n proses van verifikasie van stemme wat tot 15 Februarie kan duur.
’n Oorweldigende ja-stem vir afstigting van die Arabiese Noord-Soedan word verwag, maar die referendum-uitslag is slegs geldig as meer as 60% van geregistreerde kiesers gestem het.
Suid-Soedan het sedert 2005 beperkte selfregering ingevolge ’n vredesooreenkoms met die Arabiese regering van pres. Omar el-Basjhir in Khartoem, vir wie ’n internasionale lasbrief vir volksmoord teen die mense van die suide en Darfoer uitgereik is.
Die swak infrastruktuur in die onherbergsame land beperk bewegingsvryheid vir kiesers, verkiesingsbeamptes en waarnemers.
Hoewel alles op ’n vreedsame referendum dui, is die Suid-Soedanse weermag aan die grense met Noord-Soedan en Uganda op ’n gereedheidsgrondslag.
“Ons vertrou nie die noorde nie. Hulle wil nie hê ons moet afstig nie en hulle mobiliseer hul magte net buite sig aan hul kant van die grens,” het ’n senior militêre offisier eergister hier gesê.
Aan die suidelike grens met Uganda het die Suid-Soedanse weermag in samewerking met Uganda tenks ontplooi om te waak teen die wreedaardige Ugandese rebellebeweging, die Lord’s Resistance Army (LRA).
Die LRA het volgens die Djoeba-regering ’n ooreenkoms met die Khartoem-regering om onafhanklikwording te ontwrig.
As die vereiste getal stemme verkry word, volg ’n tydperk van vyf tot agt maande waartydens die suide en die noorde ’n ooreenkoms moet bereik oor die twee lande se gedeelde olie- en mineraalbronne en nomadiese weidingsregte.
- Rapport