Suid-Soedan sal onafhanklik raak
2011-01-20 23:00
Djoeba – Suid-Soedan het die nodige meerderheidstem vir
afskeiding behaal.
Voorlopige resultate wys sommige stembusse het tot 99%
stemme vir onafhanklikheid gewerf.
Sowat 2 224 857 stemme vir onafhanklikheid is teen Woensdag
getel.
Dit oorksry gemaklik die 1,89 miljoen stemme benodig vir ‘n
meerderheidstem.
Groot opwinding heers tans in Djoeba, eersdaag die wêreld
se jongste hoofstad, na verkiesingskommiteelid Timon Wani se aankondiging van ‘n
97,5% meerderheidstem hier.
“Dis wonderlik. Die mense van Djoeba het hul stem laat hoor
vir onafhanklikheid en ek is seker die res van die suide sal volg,” het
Mohammed Lowala uit die skare gesê.
Die amptelike resultate wat die jongste nasie ter wêreld in
Julie tot stand sal bring word egter eers volgende maand verwag.
“Ons maak seker al die reëls word gerespekteer, en dit
vat tyd,” het Aleu Garang Aleu, woordvoerder vir die Suid-Soedanse Referendum
Buro gesê.
Suid-Soedan se pres. Salva Kirr het die resultaat aan die
sowat twee miljoen mense wat tydens die burgeroorlog gesterf het opgedra. “Mag
ons, nes Jesus Christus aan die kruis, diegene vergewe wat die dood oor ons
mense gebring het.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP