Suid-Soedan kry gou eie geld
2011-07-08 06:56
Nairobi – Suid-Soedan kan binne die volgende ses maande ’n nuwe geldeenheid hê ná sy onafhanklikheidswording van die noorde dié week, het ’n senior amptenaar van die Wêreldbank Donderdag gesê.
Die streek word Saterdag die wêreld se nuutste staat ná ’n referendum in Januarie, wat gehou is ingevolge ’n vredesooreenkoms in 2005 wat dekades van burgeroorlog met die noorde tot ’n einde gebring het.
“Die ingebruikneming van die geldeenheid is ’n proses wat ses maande gaan duur. Die geld moet gedruk en verskeep word, waarna mense die kans moet kry om oor te skakel,” het Ian Bannon, die Wêreldbank se waarnemende hoof in Soedan, aan die media gesê.
“Die nuwe land het egter ’n sentrale bankier, wat beteken die struktuur vir die omskakeling bestaan.”
Amptenare sal gou ná die feesvieringe van die nuwe republiek ’n wisselkoers moet bepaal en monetêre beleid instel, tesame met ander prioriteite, waaronder die diversifikasie van die ekonomie.
Bannon sê die regering kan sektore soos landbou stimuleer om die afhanklikheid van olie – wat 98% van die staat se totale inkomste lewer – te verminder en sodoende werkgeleenthede te skep en die lewenspeil te verhoog. – Reuters
- Volksblad