Suid-Afrikaanse joernalis in Egipte aangehou
2011-02-03 22:00
Kaïro – Lara Logan, hoof van buitelandse korrespondensie vir CBS News, word saam met haar nuusspan deur die Egiptiese polisie aangehou, berig TIME Magazine.
Logan, ‘n Suid-Afrikaans gebore televisie- en radio-verslaggewer, doen gereeld verslag uit oorloggeteisterde gebiede.
Skaars ‘n dag gelede het Logan berig dat die Mubarak-regime buitelandse joernaliste van die protesoptogte probeer weghou in ‘n poging om hul verslaggewing te beperk.
“Die weermag het skielik baie meer aggressief begin optree en hulle het ons gekeer om enige beeldmateriaal op te neem,” het Logan Woensdag vanuit Kaïro gesê.
Logan is al sedert die 31ste Januarie in Kaïro.
Sy het bygevoeg dat amptenare haar en haar span oral volg, al dra hulle nie eens hul kameras by hulle nie.
Nicholas Kristof van die New York Times het ook berig dat die polisie hotelle fynkam, op soek na joernaliste.
Kliek hier vir die volledige storie.
Volg Nuus24 op Twitter.