Streekleiers wil stryd teen rebelle verskerp
2011-11-17 11:10
Nairobi – Die leiers van Kenia, Uganda en Somalië het Woensdag tydens ‘n vergadering ooreengestem om pogings te verskerp om Islamitiese vegters in Somalië te uitoorlê.
Die vergadering in Nairobi volg ná nuwe nagtelike mortieraanvalle in Mogadisjoe, die hoofstad van Somalië, deur die al-Shabaab-rebelle. Dit werp meer lig op al die uitdagings waardeur pres. Sheikh Sharif Ahmed in die gesig gestaar word in sy pogings om Somalië te stabiliseer.
Kenia het vyf weke gelede honderde soldate oor die grens na Somalië ontplooi in ‘n soektog na die al-Shabaab-rebelle. Dié rebelle-groep word blameer vir ‘n vlaag ontvoerings van buitelanders in Kenia.
In die afgelope week het senior Keniaanse regeringsbeamptes rondgereis om politieke en finansiële ondersteuning te werf vir ‘n veldtog om die rebelle uit te roei.
“Die vergadering het die behoefte beaam om samewerking tussen Amisom, TFG-magte en Kenia se weermag te versterk sodat al-Shabaab ten volle oorwin kan word,” het Moses Wetangula, die Keniaanse minister van buitelandse sake, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters