'Strafhof het geen plek in Afrika' – Mugabe
2011-09-23 10:21
Harare – Robert Mugabe, Zimbabwe se uitgesproke president, het die internasionale strafhof (ISH) Donderdag daarvan beskuldig dat hy hom “blind hou” vir die misdade van Westerse leiers.
Mugabe het aan die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gesê dat die ISH geen geloofwaardigheid in Afrika het nie.
Dit wil voorkom of “die hof slegs bestaan vir die vermeende misdadigers van die ontwikkelende wêreld waarvan die meerderheid Afrikane is,” het Mugabe gesê.
“Die leiers van magtige Westerse lande wat skuldig aan internasionale misdade is, soos Bush en Blair, word gereeld misgekyk. Sulke selektiewe geregtigheid het die geloofwaardigheid van die ISH op die Afrika-kontinent aangetas.”
George W. Bush, die voormalige Amerikaanse president, en Tony Blair, die voormalige Britse premier, is deur aktiviste gekritiseer vir hulle rol as die argitekte van die inval van Irak in 2003.
Die ISH het Omar al-Bashir, die president van Soedan, van volksmoord in Darfoer beskuldig. Muammar Gaddafi, die voormalige leier van Libië, word ook deur die hof gesoek.
Afrika-lande kritiseer gereeld die fokus op dié kontinent.
Mugabe het ook die Navo-lugaanvalle in Libië veroordeel. Volgens ‘n VN-resolusie is die doel van die aanvalle om Libiese burgers van Gaddafi se onderdrukking tydens die betogings te beskerm.
“Gister was dit Irak, toe Bush en Blair die leuenaars en aanvallers was toe hulle ongegronde aantygings oor die besit van wapens van massavernietiging gemaak het,” het Mugabe gesê.
“Hierdie keer is dit die Navo-lande wat die leuenaars en aanvallers is terwyl hulle soortgelyke ongegronde aantygings oor die moord van burgerlikes deur Gaddafi maak.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP