Sterftesyfer in Kongo-vliegongeluk styg
2011-07-12 20:56
Kinshasha – Die sterftesyfer van verlede week se vliegongeluk in die Demokratiese Republiek van die Kongo, waarby ‘n passasiersvliegtuig betrokke was, het tot 80 gestyg, met 14 mense wat steeds nie gevind kan word nie, het Victor Makwenge, gesondheidsminister, Dinsdag gesê.
“Dit is baie moeilik om die finale sterftesyfer te bepaal, aangesien van die beseerdes oor die afgelope paar dae gesterf het,” het hy gesê.
Die Rooikruis en mediese bronne het Saterdag gesê die voorlopige sterftesyfer is 74.
Die Boeing 727, wat deur die plaaslike lugredery Hewa Bora bestuur is, het by die Kisangani-lughawe neergestort toe die loodse probeer het om in swaar reën te land. Daar was 112 passasiers en ses bemanningslede aan boord.
Die vliegtuig het met ‘n gewone kommersiële roete van Kinshasa na Kisangani en Goma gevlieg toe hulle ‘n storm getref het naby die lughawe, het ‘n plaaslike administrasie-woordvoerder gesê.
Vliegongelukke is algemeen in die DRK en word meestal geblameer op verouderde en swak onderhoude vliegtuie, die veragting van veiligheidsmaatreëls en slegte weer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP