Spanning neem toe op spitsberaad oor Zim
2011-06-13 09:02
Pretoria - Die “militarisering” van Zimbabwe se verkiesingstrukture en voorbereidings het Sondag bygedra tot nuwe spanning tussen pres. Robert Mugabe en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).
Dit het daartoe gelei dat die buitengewone SAOG-spitsberaad oor die sogenaamde padkaart vir die hou van verkiesings in Zimbabwe Saterdagnag in Sandton verdaag moes word. Dit het verdere komitee-ontmoetings gisteroggend tussen lede van Suid-Afrika se onderhandelingspan en lede van Mugabe se kabinet genoodsaak.
Toe die SAOG-spitsberaad gistermiddag laat hervat is, was daar geen tekens dat tot ’n vergelyk gekom is nie. Daar is verwag dat die samesprekings, waarby 8 van die 15 SAOG-staatshoofde betrek is, tot vanoggend vroeg sou voortduur.
Die doel is om Mugabe te oorreed om die meer as 60 senior militêre offisiere wat die afgelope maande landwyd na strategiese burgerlike posisies ontplooi is om beheer oor die verkiesingsproses oor te neem, terug te roep. ’n Duidelik afgematte Mugabe weier om bes te gee.
Luidens ’n verslag in Volksblad se besit is jong en dienende offisiere vanuit die weermag, polisie, veiligheidspolisie, geheime diens en die gevangenisdiens gesekondeer na die land se verkiesingskommissie en sy kantore in al tien provinsies van Zimbabwe.
Dit sluit in offisiere met die rang van majoor tot brigadiers-generaal.
Die afbakeningskommissie wat daarop uit is om die MDC se parlementêre meerderheid ongedaan te maak, is ook onder die beheer van ’n senior generaal geplaas.
Die hoofde van al vyf sekerheidsinstansies dring steeds daarop aan dat verkiesings hierdie jaar nog moet plaasvind ten spyte van Zuma, die SAOG-fasiliteerder in die geskil, se onderhandelingspan wat meen dis prakties onmoontlik.
Benewens die militarisering van Zimbabwe se verkiesingsmasjinerie, bevat die verslag die name van 53 afgetrede militêre offisiere, die meeste oudgeneraals en brigadiers, wat op topvlak in die land se staatsdiens en selfs na die private sektor ontplooi word.
Kommer bestaan ook in die SAOG oor die vestiging van jeugmilisie-kampe in afgeleë landelike gebiede van waar hulle intimidasieveldtogte teen kiesers sal begin.
Meer as 400 mense is destyds in dié geweldpleging dood. Volgens MDC-bronne is meer as 200 van sy ondersteuners die afgelope ses maande dood, vermis of in aanhouding sonder verhoor.
Onder die agendapunt “hervorming van die sekerheidsektor” het staatshoofde van die SAOG Mugabe Sondagaand probeer oorreed om sy soldate aan die demokratiese proses te onttrek en om die versekering te gee dat sy soldate tydens enige verkiesing tot hul barakke beperk sal bly.
’n Finale verklaring oor die afloop van die samesprekings word vandag verwag.
Volg Nuus24 op Twitter.